Eensaam en verstote - 'n Bybelstukkie wat vir my baie beteken
Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote (Ps 25:16).
Om alleen te wees en om eensaam te wees verskil baie. Jy kan kies om alleen te wees. En soms is dit goed om alleen te wees en net stil te word. Maar dan is jy nie eensaam nie. Eensaam beteken om met jou hele wese te verlang na iemand by wie jy nie kan wees nie. Daarom kan jy eensaam wees tussen duisende ander mense ... en selfs langs die persoon na wie jy verlang.
Eensaamheid is om verstote te voel. Om te voel dat mense jou nie naby hulle wil hê nie. Jy mis die warmte van gemeensaamheid. Die mens is nie geskape om eensaam te wees nie. God het by die skepping van die mens juis die eensaamheid deurbreek toe Hy die mens as man en vrou geskape het. Daarom is daar altyd by n mens n hunkering na iemand met wie jy n verhouding kan hê, met wie jy kan kommunikeer, wat jou lewe kan verryk.
As jy eensaam voel, praat met God daaroor. Reik uit na mense. Selfs ná die verlies van n dierbare is dit nodig om die eensaamheid te deurbreek deur die geselskap van vriende op te soek. Ons heil lê in gemeensaamheid; ons durf nie in eensaamheid ondergaan nie.
Here, dankie vir mense na wie ek kan uitreik en wat my van eensaamheid wil vrywaar. Amen.
Ons heil lê in gemeensaamheid; ons durf nie in eensaamheid ondergaan
nie.
Uit: Toegevou in God se liefde - Johan Smit
eb 12 Augustus 2004